Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Apologia" deur MARLISE JOUBERT
"Apologia" deur MARLISE JOUBERT [boodskap #22571] Vr, 23 April 1999 00:00
G.B.  is tans af-lyn  G.B.
Boodskappe: 2179
Geregistreer: Mei 1997
Karma: 0
Senior Lid
Apologia
Marlise Joubert

Ek het die wolke geskryf die weerlig
ek het die appelbome in die reën geskryf
ek het die seisoene van alle paaie geskryf
gesing gedans en borrelend
oor die vensterbank geklim
tuinpad langs getrippel en in die nes
van heuningblomme weggekruip

ek het my vlerke opgevou
my geurige toebroodjies uitgehaal
en die wolkemaal geëet en die appelbome
en die seisoene van alle toegegroeide paaie

daar is niks meer om grensloos te integreer nie
om in vorms te giet en die afdrukke oor die land
met busse of treine of vliegtuie te stuur nie
niks is meer sê nuut of oondvars brode
om in beswyming oor te raak en ure aaneen
die druiwe uit die priële te korrel nie

alles wás
nog voor die hane kraai
die ou bokke kom ook in die kraal
en ek is hier om die lewe uit te trek
en aan te trek
om voëls in pruimbome te skryf
totdat die horisonne rou daarvan
rooi soos oopgebarste pruime rou
oor die bose skrywers van ons tyd

en ek sal bieg en weer en weer
die dadels van blare oor die water skryf
dat ek die lewe kaal uitgetrek het
om onverbode vrugte te eet
geheimenisse ongeheim te skryf
want niks is bevange in 'n kaal lewe nie
die winter skil die bome af
en ek trek tousandale aan slegs
vir die woestyn wat brand

ek het die berge balkonne van die landsskap
vol riviere en huise bruin en blou
kreukels in die somerwit geskryf

ek het 'n loflied geskryf op die blaaie van die son
oor die onbevange ongeskrewe vryheid van my kosmos
Vorige onderwerp: "Huwelik" deur ELISABETH EYBERS
Volgende onderwerp: "Soebatsfontein" deur DONALD RIEKERT
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 30 04:54:29 MGT 2024